No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Hebreërs 7:2: “Melgisedek beteken: koning van geregtigheid; en hy was ook koning van Salem, en dit beteken: koning van vrede.”



Ek het nog nooit gehoor iemand noem sy kind Melgisedek nie. Die naam is pragtig. Dit beteken letterlik “koning van geregtigheid”. Alhoewel Melgisedek net op twee plekke in die Ou Testament voorkom (Genesis 14 en Psalm 110:4), behandel die skrywer hom as ’n tipe van Christus.

Wat maak Melgisedek ’n tipe van Christus? Hy was ’n koning én ’n priester. Hy was die koning van Salem (Jerusalem). Sy koningskap het tot vrede bygedra. In Jesus het die Koning van geregtigheid en vrede ’n werklikheid geword. Jesus het ons sy seën deur sy liggaam as ’n offer belowe, wat vyandskap beëindig en ’n nuwe verhouding tussen God en ons gevestig het.

Tweedens was Melgisedek ’n priester van God. Die brief kontrasteer Melgisedek se priesterorde direk met dié van Aäron. Ons weet min van Melgisedek, maar sy priesterskap is nie iets natuurlik soos dié van die Leviete, wat in die tempel gedien het vanweë hul bloedlyn nie. Die Levitiese priesterskap was tydelik, terwyl dié van Melgisedek ewig is. Jesus het uit die stam van Juda gekom, nie die Leviete nie. Soos Melgisedek, is Christus God se ewige priester. Melgisedek is dus die skaduwee van die ware Koning en Priester, Jesus Christus.

Die beeld van Jesus word al hoe duideliker deur die hele brief. Ons kan ons oë op Hom vestig. Hy alleen bring ewige geregtigheid en vrede.



Here, dankie dat U ons Koning en Priester vir ewig is.

Kommentaar

Republikein 2025-09-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer