No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Eksodus 19:21: “Gaan af, waarsku die volk dat hulle nie deurbreek na My, die Here, toe om na My te kyk nie, want dan sal baie van hulle sterf.”



Die Here is heilig. Ons vergeet dikwels hoe spesiaal dit is om in sy teenwoordigheid te wees. Moses gaan op en af teen die berg. Dit lyk asof God elke nou en dan iets nuuts te sê het en Moses met nuwe boodskappe afstuur. Nou moet Hy weer afgaan om met die leiers te praat. Die Here kon direk met die volk gepraat het, maar Hy kies Moses wat hulle uit Egipte gelei het.

Die afstand tussen God en mense word oor en oor beklemtoon (19:10-13, 20-22). Selfs die priesters, wat daagliks met heilige dinge werk, moet besef die Here kon nie sommer net genader word nie. Al die gebooie, insluitend die noodsaaklikheid van reiniging en die reël om nie die berg aan te raak nie, beklemtoon sy heiligheid, andersheid en afstand.

Jesus het die weg na die heilige God geopen. Ons kan in sy teenwoordigheid staan. Deur sy bloed is ons van sonde gereinig (Hebreërs 10:19-25). Tog moet ons God se andersheid en grootheid nie vergeet nie. Hy is steeds heilig. Dit het die dood van God se Seun geverg om ons die voorreg en moed te gee om in sy teenwoordigheid te kom. Mag ons Hom met eerbied aanbid, dankbaar vir hierdie voorreg en genade.



Here, help my om die voorreg te verstaan om in U heilige teenwoordigheid te kom. Amen

Kommentaar

Republikein 2025-08-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer