No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Hebreërs 13:1: “As broers moet julle mekaar altyd liefhê.”



Die hart van die Christelike lewe is liefde. Dit is hoe mense weet ons volg Christus (Johannes 13:34,35).

Liefde het verskillende vorme. Eerstens omvat dit wedersydse liefde binne die gemeente (13:1). Hierdie liefde sluit alle aspekte van die geloofsgemeenskap in. Christus is ons broer (2:11-12). Daarom moet ons na mekaar omsien. Dis aanhoudende liefde: altyd, sê hy! (13:4-7).

Liefde strek ook verder as die geloofsgemeenskap (13:2). Gasvryheid behels die verwelkoming van vreemdelinge. Dit was ’n belangrike aspek van die Christelike lewe in die vroeë kerk en die Ou Nabye Ooste. Die skrywer herinner ons aan die verhaal in Genesis 18, waar Abraham die mense wat by hulle opgedaag het, met gasvryheid behandel het, onbewus daarvan dat hulle boodskappers van God was.

Nog ’n aspek van liefde is sorg vir mense in die tronk (13:3). Hy verwys waarskynlik na mense wat weens hulle geloof in tronke was. Dit is nie eenmalige, sporadiese besoeke nie, maar ’n daad van medelye, asof ons self ly en mishandel word (13:12-14).

Laastens is liefde duidelik in die huwelik. Wanneer mense in die huwelik getrou aan mekaar is, leef hulle soos mense van die nuwe koninkryk (13:4).

Liefde is praktiese sorg – gasvryheid, medelye, getrouheid en nog baie meer – onvoorwaardelik en sonder grense.



Here, laat my vandag u liefde lewe. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer