No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Eksodus 33:12,17: “Ek ken jou op jou naam; Ek is jou goedgesind. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”



Die lewe is ’n mengsel van vreugdevolle en uitdagende oomblikke. ’n Bekende Nederlandse spreekwoord lui: “Van het concert des levens krijgt niemand een program.”

Uit hierdie gedeelte is dit duidelik ons ervaar God se teenwoordigheid werklik as ons met Hom praat. Die hele verhaal is ’n stryd, ’n onderhandeling met God. Dwarsdeur hierdie proses weet Moses dat God hom persoonlik ken – op die naam (33:12,17).

Onsekerhede en swaarkry help ons om ons sekuriteit in God se liefde te vind. God ken ons op die naam en sal ons nooit verlaat nie. Hy is ons goedgesind. Ons sien dit veral in Jesus, wat alle mense liefhet. Ons verstaan dan dat ons Hom raaksien omdat Hy ons eerste raakgesien het. Ons leer Hom ken omdat Hy ons ken.

Wanhoop kan dus ’n pad wees om God se liefde te ontdek. Jesus belowe om elke dag by ons te wees, selfs wanneer die pad vorentoe onseker is. In Hom het God sy gesig gewys. Hy roep ons om sy leiding te volg.

Henri Nouwen skryf dit is moeilik om te dink ’n verlate woestyn kan met ’n pragtige verskeidenheid blomme bedek wees. Die paradoks is dat nuwe lewe uit die pyn van die oue gebore word.



Here, dankie dat U saam met ons op die lewensreis stap. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-11-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer