No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Eksodus 1:8: “Toe ’n nuwe koning, wat nie van Josef geweet het nie, oor Egipte begin heers...”



In ’n nuwe boek deur die Suid-Afrikaanse teoloog Daniël Louw, Wat nou?, praat hy oor die normale reaksies van teleurstelling, skok, hartseer en spyt. Wat nou? Moet jy weghardloop, terugveg of weer opstaan? ’n Kitsoplossing in nog ’n spreekkamer vol potensiële diagnoses sal nie help nie. Ons smag na insig om perspektief te herwin te midde van die wisselende emosies. Uiteindelik beklemtoon hy dat die verandering van perspektief, denkwyse en houding teenoor die probleem ’n prisma kan wees wat nuwe, ander opsies ontvou.

Egipte het ’n nuwe heerser gekry. Dit het groot implikasies gehad. Die eeue het die herinnering aan iemand wat baie vir Egipte beteken het, uitgewis. Die Israelitiese immigrante in Egipte het ’n bedreiging geword. Wat kan ons doen? Ons slaan hulle waar dit die meeste seermaak. Ons maak seker hulle word minder. Ons maak hulle kinders dood.

Wat nou? So moes hierdie mense in Egipte ook gevoel het. Die magte teen God se plan word nie onmiddellik uitgewis nie. Die skrywer wil wys dat God sy plan uitvoer te midde van teenstanders. Hulle perspektief en houding teenoor hierdie probleem moet verander. Uiteindelik moes die volk die getrouheid van God in alle omstandighede ontdek. God verloor nooit beheer nie.

Kommentaar

Republikein 2025-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer