No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Hebreërs 13:8: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”



Jy kan op Jesus staatmaak – gister, vandag en môre. Hierdie stelling is ’n troos. Die konteks maak dit ’n selfs wonderliker boodskap.

Aan die begin van die brief word Jesus se teenwoordigheid benadruk (Hebreërs 1:11,12). Dan verduidelik dit Jesus se bestaan in gister, vandag en môre. Lank gelede (gister) het Jesus die volkome offer vir ons sondes gebring deur Homself as die enigste offer te gee (Hebreërs 10:10-14). In die hede (vandag) tree Hy vir ons in by God (Hebreërs 7:24-25; 9:24) en sit Hy aan God se regterhand (Hebreërs 12:2). En laastens sal Hy in die toekoms terugkeer (Hebreërs 9:28) en al die beloftes van God vervul.

Die outeur herinner hulle daaraan om aandag te skenk aan hul voorouers, die mense wat ’n goeie voorbeeld gestel het (Hebreërs 13:7). Hulle was teen hierdie tyd waarskynlik al oorlede – miskien selfs deur marteldood. In hul afwesigheid hou Jesus ons op koers. Ons stap nie die pad alleen nie.

Andersyds was daar valse leraars (Hebreërs 13:9) wat hulle op ’n dwaalspoor kon lei. In hierdie konteks is dit die genade van God in Christus, wat altyd met ons is, wat ons sterk hou.

Dit maak nie saak wat die lewe oor ons pad stuur nie – Jesus is gister, vandag en tot in ewigheid getrou. Jy kan op Hom staatmaak.

Kommentaar

Republikein 2025-09-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer