No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Eksodus 32:12: “Laat u toorn bedaar en wees u volk genadig. Moet tog nie dié ramp oor hulle laat kom nie.”



Moses tree in vir die sondige Israeliete. God wil sy volk vernietig weens hulle afgodery. Moses gee vier redes hoekom God tog moet vergewe.

Eerstens, Hy het reeds soveel gedoen om hulle uit Egipte te bevry (32:11). Tweedens, as Hy hulle nou vernietig, sou sy reputasie onder die Egiptenare geruïneer word (32:12). Derdens, sal dit geweldige lyding veroorsaak (32:13). En laastens, moet die Here aan sy beloftes dink. Hy het belowe om dit te vervul (32:13).

God verander van plan. Hy vernietig hulle nie. God se besluit is genadig en vry, maar Moses se gebed beïnvloed Hom. Hy is bereid om te luister.

Die idee dat God sy plan kan verander, word dikwels vergeet. Sy liefde en getrouheid is so diepgaande dat dit Hom kan lei om sy planne te heroorweeg (Hos. 11:8-9). Die Here se reaksie wys dat sy verhouding met ons dinamies en persoonlik is. Sy genade is groter as sy oordeel. Sy liefde dryf Hom om te luister en vergifnis te skenk. Dit bring hoop en vernuwing. Die Here, die barmhartige Skepper, gee ’n nuwe begin aan almal wat hulle tot Hom wend. Hy vergewe, maak nie saak hoe ver ons dwaal nie. Die bloed van Jesus Christus reinig ons van alle sonde.

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer