Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Eksodus 20:17: “Jy mag nie begeer nie. . .”



As ons deur Jesus van sonde bevry is, wat word van ons verwag? Ons moet elke begeerte om God se gebooie te verbreek, aktief teenstaan. Ons word vyande van sonde – verwerp dit, haat dit en saboteer dit in alle vorme, of dit nou in die geheim of in die openbaar is. Veldkamp herinner ons daaraan om nie sonde te koester nie, maar om dit te verafsku, net soos ons die dood haat. Dit vereis ’n proaktiewe houding: sonde moet nooit welkom in ons lewens wees nie. Onthou, ons dade openbaar die toestand van ons harte. Hierdie gebod is ’n oorlogsverklaring – teen elke sondige begeerte. Daar is geen wapenstilstand, geen vredesooreenkoms nie.

Dis moeilik in vandag se lewe. Ons word met versoekings gebombardeer. Om hierteen te kies maak ons dikwels ongewild, maar ons trou aan Christus moet voorrang bo aanvaarding geniet. Elke gebod roep ons op om oorlog te verklaar teen spesifieke sondes: afgodery, trots, minagting vir die Here se dag, gierigheid, oneerlikheid en wellus. Hierdie stryd moet uit die hart kom, nie vir die skyn nie. Oorwinning oor sonde behels die uitroei van elke begeerte na verkeerde dade. Dit is ’n aktiewe poging om in dankbaarheid teenoor ons Verlosser te leef.

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer