Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

BYBELSE WYSHEID

Mandy Rittmann
Levitikus 19:11: ... julle mag nie lieg of mekaar bedrieg nie.

Die Here gee om oor hoe ons mekaar behandel. Hy gee duidelike instruksies oor respek vir mekaar. In Levitikus 19 is daar ’n paar harde woorde oor bedrog (19:11, 12, 36). Dit begin dikwels in ons harte (19:17), wanneer ons nie openlik met iemand praat oor iets wat verkeerd is tussen ons nie. Wanneer ons haat en wrokke teen iemand koester, selfs al kon ons dinge uitpraat, is dit bedrog (19:17,18). Dis soos leuens wat lewendig gehou word. As ons so teenoor mekaar optree, het ons geen integriteit nie.

Dit is duidelik dat bedrog en leuens verkeerd is. Ons was almal slagoffers van leuens. Ons het ook almal veroorsaak dat ander slagoffers van ons misleiding was. Aan die einde van elke paragraaf in Levitikus 19 staan daar: "Ek is die Here!" Wie is die Here? Hy het hulle vrygemaak. Hy is die Heilige God wat ons afgesonder het vir sy diens (Levitikus 11:44-45; 20:7, 8).

Dit beteken dat elke verhouding, elke aksie, elke gesprek oor ons medemens, elke saketransaksie, elke gevoel van haat, elke skinderstorie en elke daad van disrespek nie net oor die slagoffers gaan nie. Dit is ’n aanval op hulle unieke status as God se heiliges. En as ons God se mense seermaak, doen ons dit ook aan Hom. God se genade het ons bevry. Daarom moet ons in alle sake by die waarheid staan.

Gees van God, laat my met die waarheid leef. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-03-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer