No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Maleagi 2:15: Hy wil hê dat daar ’n nageslag moet wees wat Hom eer. Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is nie.”



Maleagi herinner ons daaraan dat geloof in die een ware God in gesinne onderhou moet word en altyd eerste moet kom. Egskeiding kan kinders se begrip van God se genade beskadig. Maleagi beklemtoon dat geloof altyd eerste moet kom, selfs bo ons gemak in huwelike. ’n Gesonde gesin skep ’n veilige ruimte vir kinders waar hulle in God se genade kan groei en waar hulle geloof kan floreer.

Die huwelik is soos om ’n sterk huis te bou en dit moet daagliks in stand gehou word. Suksesvolle huwelike gebeur nie toevallig nie. Die grondslag is liefde, onselfsugtigheid en harde werk. Paulus herinner ons daaraan dat Christus se liefde vir die kerk selfopofferend was. Mans en vroue is geroep om mekaar onselfsugtig lief te hê en mekaar se behoeftes bo hul eie te stel (Efesiërs 5:21-32). Hierdie liefde bevorder vryheid en respek en help ons om te word wat God bedoel het.

Verhoudings moet beskermend en bevrydend wees, nie verstikkend nie. Deur doelbewus en onselfsugtig lief te hê, skep ons ’n omgewing waar ons en ons kinders veilig en vry is. So bou ons gesinne wat sy liefde weerspieël – ’n veilige en heilige ruimte waar geloof werklik kan floreer.

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer