No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Eksodus 20:7: “Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie.”



HF Kohlbrugge skryf dat die naam van God die samevatting van al sy deugde en volmaakthede is, soos Hy dit in Christus aan ons vir ons saligheid geopenbaar het.

Toe Jesus Homself aan ons bekend gestel het, lees ons keer op keer in die Johannes-evangelie hoe Eks 3:14 weerklink. “Ek is wat ek is” word “Ek is die brood van die lewe; Ek is die lig vir die wêreld; Ek is die goeie Herder; Ek is die opstanding en die lewe; Ek is die ware wynstok; Ek is die weg, waarheid en lewe.”

Jesus is die openbaring van God se verlossende teenwoordigheid. As Christene bely ons meer as wat Ou Israel bely het. Die God wat Homself in die Naam “Ek is wat ek is” (Ex 3:14) geopenbaar het, wys wie Hy is in Jesus. Deur Jesus is Hy Immanuel, God met ons. God se liefde in Jesus oorweldig ons.

Waar God se Naam gebruik word is Hy teenwoordig as die reddende, getroue en bevrydende God. Keer op keer wanneer ons die naam van God, die naam van die Here, die naam van Jesus Christus op ons lippe neem, staan ons in die teenwoordigheid van Hom wat ons verlos het! Hoe kan ons dan sy naam sommer vir iets anders gebruik? Ons kan tog nooit sy teenwoordigheid met minagting behandel nie.



Here, ek eer u Naam! Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer