No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Hebreërs 11:16: “. . . hulle het na ’n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang.”



’n Franse vlieënier het ’n vliegtuigongeluk in die woestyn oorleef. Hy het groot lyding verduur en dikwels gewens dat hy kan sterf. Die herinnering aan sy vrou en kinders by die huis het hom egter krag gegee. Sy begeerte om met sy gesin herenig te word het hom aan die gang gehou.

Ons ervaar almal oomblikke wanneer ons lus is om op te gee, veral op ons geloofsreis. In Hebreërs 11 sien ons baie gebroke mense – mense soos ons. Abraham was te oud vir kinders, maar het ’n pa geword. Moses het met ’n spraakgebrek gesukkel en tog sy volk gelei. Jakob, ’n bedrieër, is steeds deur God gebruik.

Hulle moes almal leer om weg te kyk van hulle gebrokenheid. Hulle het besef dat God se getrouheid en beloftes voldoende was. Hulle het geweet dat Hy iets groters vir hulle beplan het as wat hulle tans ervaar. Daarom het hulle volhard. Dit is geloof – wegkyk van onsself.

Karl Barth sê dat dit beteken om verby die vraag te kyk of jy glo of kan glo. Rolf Christiansen voeg by dit beteken om ons fokus te verskuif weg van alles wat ons aandag van God mag aftrek, ons potensiaal en beperkings en ons vaardighede of tekortkominge.

Waarna kyk jy op jou geloofsreis? Jouself of die getrouheid van God?

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer