No Image Caption

Bybelse wysheid

Sanet Pearson
DR. ANNES NEL

Hebreërs 11:13: “. . . en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.”

Wanneer is ’n kerk suksesvol? Is gemeentes wat weens die finansiële situasie van die lidmate bitter swaarkry minder suksesvol as ander met groot getalle en oor baie finansiële hulpbronne beskik?

Dit is nie noodwendig die geval nie. Die Nuwe Testament leer dat die kerk ’n baie spesifieke identiteit het. Ons is vreemdelinge en bywoners (Heb 11:13; 1 Pet 2:11). Ons het ’n ander burgerskap (Heb 11:15; Fil 3:20). Ons woonplek hier is tydelik.

Ons sien dikwels hoe klein kolonies van Afrikaners, Chinese en ander groepe oral in die wêreld ontstaan. Daar eet ons soos by ons huis, praat ons ons taal en probeer die waardes van ons kultuur lewend hou.

Christene is so ’n kolonie op aarde. Ons leef die waardes van die vaderland uit. Ons eet die brood en drink die wyn wat ons herinner aan iemand wat die pad van die kruis namens ons gestap het. Nou stap ons die pad van die kruis. Ons eer lê nie in verhoging, mag en luukse nie, maar in die geloofspad van nederigheid, prysgawe en totale oorgawe aan God se wil. Dít is ’n suksesvolle kerk.

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer