Bybelse wysheid (002)
Bybelse wysheid (002)

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL
Ef. 4:32: "Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar ..."

Wanneer ek kruideniersware by die kasregister in Noord-Ierland betaal, is ek verstom hoe vriendelik die kassiere by sommige winkels is. Hoe hou hulle dit vol?!

Moeder Teresa het gesê dat dit ongelooflik is om te sien hoeveel goeie dinge deur ’n eenvoudige glimlag bereik kan word. Dit kos niks om vriendelik te wees nie. Om vriendelik teenoor iemand te wees, kan sy of haar lewe verander.

Ons moet egter onderskei tussen ’n opregte en oppervlakkige vriendelikheid en glimlag. Christene moet nooit daarvan beskuldig word dat hulle nie opreg is nie. Die liefde dra geen maskers nie, sê Paulus (Rom. 12:9).

Christene glimlag en is vriendelik en gaaf, veral omdat God se glimlag ons lewens verander het. In Efesiërs 4 beklemtoon Paulus hoe ons van duisternis na lig beweeg het, van ’n lewe in selfsug, bitterheid en haat na ’n lewe van diensbaarheid, vergifnis en omgee vir ons medemens.

Christelike vriendelikheid, welwillendheid en sorg het wel iets gekos. Jesus het sy lewe afgelê om vir ons te wys wat dit beteken.

Here, laat my vriendelikheid en glimlag vandag u welwillendheid en liefde uitstraal.

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer