Bybelse wysheid (002)
Bybelse wysheid (002)

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL
Rom. 12:9: "Die liefde moet opreg wees."

Fopnuus (fake news) is oral. Soms lees ons van sogenaamde "navorsing" wat iemand op die internet gedoen het, wat gewoon gebou is op hierdie soort nuus. Ons weet nie meer wat om te glo nie.

Fopliefde is ook oral. Dit is baie pynliker en skadeliker as fopnuus.

Op individuele vlak vra ons onsself af: wie is regtig lief vir my sonder enige voorwaardes?

Liefde moet opreg wees. Dit beteken letterlik dat liefde nooit maskers dra nie.

Ons het by Christus geleer wat ware liefde is. Hy het Homself vir ons opgeoffer. Daarom dra die Christelike liefde hierdie stempel.

Hoe weet ons of liefde opreg is? Paulus antwoord dadelik: Dit haat wat sleg is en hou vas aan wat goed is.

Ons liefde is nie gereserveer vir mede-Christene nie. Ja, soos in ’n gesin, moet daar broederliefde, hulp in tye van nood, eenheid en deernis onder ons wees. Dit is egter nie waar liefde eindig nie.

Die Gees vul ons met liefde wat die wêreld oorstroom.

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer