Photo Caption
Photo Caption

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Openbaring 3:20: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.”


Laodisea het tevrede met hulself geraak. Hulle het vergeet hoe afhanklik hulle van Christus is. Tog gee Jesus nie moed op met hulle nie. Hy staan by die deur en klop. Hy gee hulle nog ’n kans om Hom in hul lewens toe te laat.

Jesus klop nie net nie. Hy praat. Dit is hoe ons Here is. Hy hou aan om met ons te praat en nooi ons uit om na sy stem van liefde te luister. Sy teenwoordigheid bring genesing en nuwe lewe in ons huise en gemeentes.

Sommige Bybelverklaarders verbind hierdie beeld met Hooglied 5:2-6. In hierdie gedeelte klop die geliefde aan die deur, maar die een vir wie hy lief is, neem te lank om oop te maak. Wanneer sy uiteindelik die deur oopmaak, is hy reeds weg.

Wat ’n belangrike herinnering dat ons nie moet uitstel wanneer Jesus praat nie! Wanneer ons na Hom luister, deel ons in sy oorwinning. En eendag sal ons saam met Hom regeer (Openbaring 3:21).

Luister na sy stem! Sonder Jesus het ons lewens geen betekenis nie. Dit is leeg. Slegs Hy vul ons met sy liefde, sy teenwoordigheid, sy vergifnis en sy genesende krag.


Here Jesus, ek hoor U stem. Ek maak die deur van my hart vir U oop. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer