Photo Caption
Photo Caption

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Openbaring 3:19: “Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle.”


Party mense vind dit moeilik om teregwysing te aanvaar. Hulle verkies woorde van bemoediging. Hulle dink dalk iemand wat hulle op hul foute wys, hulle nie liefhet nie. Jesus wys die gemeente in Laodisea op hul foute, nie omdat Hy hulle haat nie, maar omdat Hy hulle liefhet. Hy wil hê hulle moet hulle bekeer en hul verhouding met Hom herstel. Jesus stel Homself as die Amen, die getroue en ware Getuie (3:14) bekend. Ons kan Hom ten volle vertrou. Hy ken ons en wys vir ons die dinge in ons lewens wat moet verander.

Jesus bied vir ons alles aan wat ons werklik nodig het. In Openbaring 3:18 praat Hy van goud wat deur vuur gelouter is, wit klere en oogsalf. Dit verwys na geestelike rykdom, vergifnis en geestelike insig wat net Hy aan ons kan gee. Sonder Jesus kan ons dalk baie geld hê, ’n goeie naam en baie kennis, maar steeds geestelik arm en blind wees. Moenie die Here se teregwysing sien as ’n teken dat Hy ons nie liefhet nie. Hy wys ons op ons foute omdat Hy ons liefhet en die beste vir ons wil hê. Hy roep ons om na Hom toe terug te keer. By Hom ontvang ons wat ons nodig het.


Here Jesus, dankie dat U my liefhet, selfs wanneer U my op my foute wys. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer