Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Openbaring 3:15-16: “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. . . Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.”
Jesus spreek die gemeente in Laodisea aan omdat hulle geloof lou geword het. Hulle het lou water geken. Die warm water van die nabygeleë warmwaterbronne het afgekoel voordat dit Laodisea bereik het. Die water het sleg gesmaak en mense het siek geword as hulle dit gedrink het. Jesus gebruik hierdie beeld om te wys ons verkeerde keuses, onverskilligheid, louheid en selfbedrog maak Hom naar. Is ons so gemaklik met godsdiens dat ons Jesus uit ons lewe laat?
George Beasley-Murray verduidelik godsdiens kan ’n lewende geloof uitdoof. Dit kan gevaarliker wees as om glad nie geloof te hê nie. Jesus se teregwysing beteken nie Hy het opgehou om ons lief te hê nie. Openbaring 3:19 sê dat Hy dié wat Hy liefhet, teregwys en dissiplineer. Hy wil hê ons moet ons sonde raaksien en na Hom terugkeer.
Campbell Morgan skryf dat die enigste oplossing vir lou geloof is om Christus die plek te gee wat Hom in ons lewe toekom. Kom ons aanvaar Jesus se teregwysing, keer terug na Hom en dien Hom met ’n volkome hart.
Here Jesus, vergewe ons louheid en onverskilligheid. Help ons om elke dag met geloof en liefde aan U getrou te bly. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie