Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Openbaring 3:17: “Julle sê: ‘Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,’ en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal.
Jesus praat baie ernstig met die gemeente in Laodisea. Hy trek as’t ware die maskers van hulle gesigte af. Hulle het gedink hulle is ryk, suksesvol en het alles wat hulle nodig het. Jesus het iets heeltemal anders gesien.
Hulle het geld gehad, maar was geestelik arm. Hulle het dokters en medisyne gehad, maar was geestelik blind. Hulle het mooi klere gedra, maar was geestelik kaal. Hulle het gedink hulle het niks nodig nie, maar hulle het Jesus dringend nodig gehad.
Die hartseer woorde is: “Julle weet nie.” Hulle het nie besef hoe dit werklik met hulle geestelike lewe gegaan het nie. ’n Mens kan baie besittings hê en tog brandarm wees sonder Jesus. Jy kan met jou oë sien, maar blind wees vir jou sonde en jou behoefte aan God. Jy kan mooi aantrek, maar sonder Christus se vergifnis, wat ons sonde bedek, bly jy geestelik kaal.
Niks kan die plek van Jesus inneem nie. Ons moet versigtig wees om nie so tevrede met onsself te raak dat ons vergeet hoe afhanklik ons van Hom is nie. Jesus roep ons om eerlik na ons lewens te kyk en sy hulp te soek.
Here Jesus, maak ons oë oop. Help ons om te besef hoeveel ons U genade, liefde en vergifnis nodig het. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie