Photo Caption
Photo Caption

BYBELSE WYSHEID

Vernuwing
Dr. Annes Nel

Openbaring 3:2: Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop.


Jesus gee vyf opdragte: Word wakker, versterk wat oor is, onthou wat julle ontvang het (3:3), hou daaraan vas en bekeer julle (3:3). Ons geestelike lewe behoort deur al hierdie dinge gekenmerk te word.

Sardis het veilig gelyk omdat dit op steil rotse gebou was, maar vyande het die stad onverwags ingeneem. Die inwoners moes waaksaam bly! Ons geloof verswak wanneer gebed, aanbidding, gehoorsaamheid en ons verhouding met God afgeskeep word.

Jesus roep ons om mense met ’n swak geloof te versterk. Ons kan vir hulle bid, hulle bemoedig en hulle help om deur die Heilige Gees te groei.

John Stott skryf: “Die kortste pad na bekering is om te onthou!” Wanneer ons onthou wat ons oor die evangelie ontvang en gehoor het (3:3), dink ons aan God se genade, Jesus se verlossing en die gawe van die Heilige Gees. Dit help ons om ons sonde te erken, daarvan weg te draai en na die Here terug te keer.

Ons is dalk nie geestelik dood nie, maar ons geloof kan swak wees. Soos ’n vertrek sonder vars lug, kan ons geestelike lewe versmoor wanneer ons nie na die Heilige Gees luister nie. Laat ons sy stem hoor en gehoorsaam reageer.


Heilige Gees, maak my wakker, versterk my geloof, help my om u evangelie te onthou, aan u waarheid vas te hou en elke dag tot bekering te kom. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-11-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer