Photo Caption
Photo Caption

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Openbaring 3:1: “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.”


Wat dink God van ons lewe? Die gemeente in Sardis het waarskynlik elke Sondag bymekaargekom, lofliedere gesing, gebid, dankoffers gegee en mense in hul gemeenskap gehelp. Robert Mounce skryf hulle het ’n goeie naam in die gemeenskap gehad, maar dat hul dade nie aan God se verwagtinge voldoen het nie. Hulle het geestelik lewend gelyk, maar hulle lewe het nie die vrugte opgelewer wat God behaag nie. Mense se goedkeuring is nie dieselfde as God s’n nie.

God kyk dieper as ons goeie naam en godsdienstige gewoontes. Hy ken ons harte, ons bedoelings en die ware toestand van ons geloof. Ons kan ander mense beïndruk, maar ons kan niks vir God wegsteek nie. Kerkbywoning, diensbaarheid en dankoffers is goed, maar ons moet ook vra of ons lewe werklik God se standaarde weerspieël.

John Stott herinner ons daaraan dat ons vir God leef, voor Hom staan en eendag aan Hom rekenskap sal gee. Daarom moet ons eerlik na ons eie lewe kyk. Groei ons in geloof? Het ons ander mense lief? Gehoorsaam ons God?


Kom ons word wakker, laat God ons lewe verander en leef ons geloof opreg uit. Vandag is ’n nuwe geleentheid om na Hom terug te keer en vrugte te dra wat sy Naam eer.


Hemelse Vader, help my om opreg voor U te lewe en nie die goedkeuring van mense te soek nie. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-11-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer