Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Openbaring 3:2: “Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie.”
John Stott beskryf die gemeente in Sardis as ’n geestelike begraafplaas. Dit is ’n skokkende beeld van ’n gemeente wat lewendig gelyk het, maar in Jesus se oë dood was. Die mense in die omgewing het ’n aktiewe en suksesvolle gemeente gesien. Almal was beïndruk, behalwe Christus.
Daar is geen sprake van vervolging of valse lering nie. Miskien het die gemeente té gemaklik geraak. Hulle het swaarkry vermy en veiligheid gekies eerder as om heelhartig aan Christus toegewy te wees. William Hendriksen beskryf hulle vrede as die vrede van ’n begraafplaas. Geestelike agteruitgang gebeur selde oornag. Soos ’n mens se gesondheid stadig agteruitgaan, kan ’n gemeente ook mettertyd sy geestelike krag verloor. Sardis was eens ’n belangrike en ryk stad. Selfs nadat dit ná ’n groot aardbewing herbou is, het dit nooit weer sy vorige glorie bereik nie. Sukses in die verlede waarborg nie krag vandag nie. Jesus het gewaarsku dat dringende optrede nodig was. Die gemeente moes wakker word.
’n Besige gemeente is nie noodwendig gesond nie. Ons kan vol programme en indrukwekkende geboue hê, terwyl ons liefde vir Christus koud word. Herlewing begin by my. Vra God om vandag sy lewendmakende werk in jou lewe voort te sit. Dis tyd om wakker te word!
Here Jesus, maak ons wakker uit ons geestelike slaap. Maak ons liefde vir U weer nuut. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie