Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Openbaring 2:14: “Maar Ek het ’n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang.”
Die gemeente in Pergamum het in moeilike tye aan Jesus getrou gebly. Tog het sommige gelowiges toegelaat dat wêreldse invloede hulle geloof verswak. Jesus het hulle gewaarsku teen die leer van Bileam en die Nikolaïete, wat mense aangemoedig het om aan God ongehoorsaam te wees. Bileam kon Israel nie vervloek nie. Daarom het hy ’n ander plan beraam om hulle tot sonde te verlei (Numeri 22-24). Met ’n slinkse plan het hy hulle van God vervreem. Sommige Christene in Pergamum het gedink dat hulle aan heidense feeste en verkeerde gebruike kon deelneem sonder om hul verhouding met Jesus te benadeel. Hulle wou inpas, vriende maak en nie anders as die wêreld wees nie.
Ja, ons leef in die wêreld. Ons moet liefde betoon, vriendskappe bou en die goeie nuus van Jesus deel. Tog mag ons nie alles aanvaar wat die wêreld as normaal beskou nie. Ons behoort aan God en ons daaglikse keuses moet dit weerspieël. Die gevaar begin dikwels met klein toegewings. Mettertyd kan dit ons geloof verswak. Daarom moet ons ons harte teen groepsdruk en misleidende leringe, selfs binne die kerk, beskerm. Kom ons ondersoek gereeld ons lewens en vra: Bring my keuses eer aan Jesus? Ware getrouheid beteken dat ons Jesus volg, selfs wanneer ons soos ’n seer duim uitstaan.
Here, laat ek U vandag met my hele lewe volg. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie