Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Openbaring 2:12: “So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het.”
Christene was onder druk in Pergamum. Die Romeinse regeerders het hulle gestraf en selfs met die dood gedreig as hulle geweier het om die keiser te aanbid.
Jesus stel Homself voor as die Een met die skerp swaard wat aan albei kante sny. In daardie tyd het die Romeinse regeerders die mag gehad om mense met die swaard te laat doodmaak. Jesus het hulle egter daaraan herinner dat die hoogste gesag nie aan Rome behoort nie, maar aan Hom.
As volgelinge van Jesus mag ons onthou dat Hy altyd in beheer is. Selfs wanneer dit lyk asof slegte mense wen en magtige mense alles beheer, bly Jesus die Koning. Hy weet wat reg en verkeerd is. Hy sal regverdig oordeel. Geen aardse regeerder het die laaste sê nie. Jesus het die finale woord.
Sy boodskap bevat ook ’n waarskuwing. Jesus roep mense wat teen Hom draai op om hulle verkeerde weë te laat staan en na Hom terug te keer. As hulle weier, sal Hy hulle oordeel.
Ons voel dikwels ontsteld wanneer ons onreg rondom ons sien. Ons wonder of God nog in beheer is. Onthou: Jesus bly die regverdige Regter en Koning, selfs wanneer dit lyk asof die duisternis oorwin.
Staan daarom vas in jou geloof en vertrou Jesus. Hy sien alles en sal op die regte tyd regverdig oordeel.
Here Jesus, help ons om op U mag en regverdige oordeel te vertrou. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie