Photo Caption
Photo Caption

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Openbaring 2:20: “Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet.”


Die gemeente in Tiatira het goeie dinge gedoen, maar Jesus het die groot probleem uitgewys. Hulle het toegelaat dat Isebel se leer voortgaan. Sy het gelowiges aangemoedig om hul geloof prys te gee deur aan heidense gebruike deel te neem. Isebel was nie haar naam nie, maar ’n beskrywing van haar invloed. Dit herinner ons aan Isebel in die Ou Testament, wat God se volk tot afgodery en onsedelikheid gelei het. In Tiatira was daar druk om aan heidense feeste deel te neem. Dit was belangrik vir werk, inkomste en sosiale aanvaarding. Sommige gelowiges kon dalk gedink het: “Ek kan uiterlik deelneem, maar in my hart aan Christus getrou bly.” Of: “Ek het nie ’n keuse nie.” Jesus leer egter dat ons geloof nie net oor ons oortuigings gaan nie. Dit moet ook sigbaar wees in hoe ons leef. Ons liggaam behoort aan Christus, nie net ons denke en geloofsoortuigings nie. Ons daaglikse keuses maak saak. Werk, geld, vriendskappe en die begeerte om aanvaar te word, kan ons tot kompromie verlei. Ware toewyding beteken om Christus te eer in ons denke, besluite, verhoudings, werk en lewe. Kompromie lyk soms onskuldig, maar dit kan ons verhouding met God negatief beïnvloed.


Here Jesus, help my om in elke deel van my lewe getrou aan U te bly. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-10-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer