Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Openbaring 2:18: “So sê die Seun van God, wie se oë soos vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is.”
Jesus stel Homself aan die gemeente in Tiatira voor as die Seun van God. Hy is nie een van baie gode of net ’n menslike leier nie. Hy is die ware Seun van die lewende God en die Een wat alle gesag het. In ’n stad waar Apollo as die seun van Zeus vereer is, maak Jesus dit duidelik dat Hy alleen die Here is.
Sy oë is soos vuurvlamme. Niks is vir Hom verborge nie. Jesus sien ons liefde, geloof, diensbaarheid en volharding. Hy sien ook ons kompromieë, ons verborge sondes en die verkeerde dinge wat ons soms toelaat.
Sy voete is soos blink koper. Tiatira was bekend vir sy bronsbedryf. Hierdie beeld sou daarom baie sterk by die mense aanklank gevind het. Dit wys op Jesus se krag en standvastigheid. Sy gesag oortref alles. Sy koninkryk sal nooit tot ’n einde kom nie. Wanneer ons onder druk kom om ons geloof prys te gee of kompromieë aan te gaan, moet ons onthou wie Jesus is. Hy is die Seun van God. Sy oë sien alles en sy voete staan vas. Daarom kan ons getrou bly, want ons Here is sterk, standvastig en die Oorwinnaar.
Here Jesus, help my om op U gesag te vertrou, getrou aan U te leef en nooit my geloof prys te gee nie. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie