Photo Caption
Photo Caption

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Romeine 12:20: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink.”


In 2 Konings 6 het Elisa gekeer dat die koning van Israel wraak neem op die Aramese soldate. In plaas daarvan om hulle dood te maak, het hy vir die koning gesê om vir hulle kos en water te gee en hulle daarna huis toe te stuur. Genade het oordeel en wraak vervang.

Die wêreld se houding is: Ek gaan wraak neem. Jesus wys vir ons ’n ander pad: versorg hulle, bid vir hulle, vergewe hulle.

Die evangelie herinner ons daaraan dat ons sondaars was, maar Christus het vir ons gesterf, ons met God versoen en ons na Hom toe teruggebring. Wanneer ons by die Here se tafel saamkom, onthou ons die Lam wat vir ons geoffer is, die Koning wat vergewe en die Verlosser wat ons met liefde ontvang.

Sy genade verander nie net hoe ons dink nie; dit verander ook hoe ons leef. Wraak en genade sluit mekaar uit. Mense wat ons seergemaak het, het God se genade nodig – net soos ons.

As Christene sê ons: Ek glo dat God my die genade gee om mense te vergewe wat my seergemaak het. Ek glo dat ek kan weier om wraak te neem, omdat God aan my genade bewys het.

Deur God se genade kies ek vergifnis, genade en liefde in plaas van woede, haat en wraak.


Here Jesus, laat my met genade na mense kyk.

Kommentaar

Republikein 2026-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer