Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
2 Konings 6:16: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.”
Ons word maklik bang wanneer ons net kyk na wat rondom ons gebeur. Elisa se dienaar het die vyand se leër rondom Dotan gesien en gedink dat hulle vasgekeer en verslaan is. God het egter sy oë oopgemaak en hy het perde en strydwaens van vuur rondom hulle gesien. Die omstandighede het nie dadelik verander nie, maar hy kon nou sien dat God se mag baie groter was as wat hy met sy gewone oë kon sien.
Later het God sy volk van die Arameërs gered, die beleg van Samaria beëindig en hongersnood in oorvloed verander. Wat onmoontlik gelyk het, het moontlik geword omdat God ingegryp het.
Geen aardse mag of gesag is groter as God nie. Ons sien dit die duidelikste in Jesus. Hy het in ’n wêreld vol lyding, siekte, ongeloof en dood gekom. Deur sy bediening het God se koninkryk deurgebreek. Jesus het siekes genees, mense bevry en uiteindelik die dood oorwin deur sy opstanding.
Emil Brunner herinner ons daaraan dat ons uiteindelik voor ’n keuse tussen wanhoop en geloof staan. Geloof beteken nie dat ons lyding ontken nie. Dit beteken dat ons God vertrou, selfs te midde van moeilike omstandighede. Ons hoop is in Jesus Christus, deur wie God die dood en wanhoop oorwin het.
Here, help my om U te vertrou en te glo dat U groter is as enige situasie. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie