Photo Caption
Photo Caption

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

2 Konings 7:1: “Maar Elisa sê: ‘Hoor die woord van die Here! So het die Here gesê: Môre hierdie tyd sal ’n mens vir elf gram silwer vyf kilogram meel of nege kilogram gars kom koop, hier in die poort van Samaria’.”


Geloof sien verder as dit wat ons op die oomblik voor ons sien. Die koning van Israel het hongersnood, vrees en ellende gesien. Sy amptenaar het net onmoontlikheid gesien. Hulle kon nie dink hulle situasie kon verander nie, omdat hulle net hulle omstandighede raakgesien het. Hulle het vergeet dat God groter is as hulle omstandighede.

Elisa het beter gesien. Terwyl die koning kwaad en moedeloos was, het Elisa rustig gebly. Hy het God se woord vertrou, want hy het geweet die Here was besig om te werk, selfs toe alles onmoontlik gelyk het. Geloof beteken nie dat ons die werklikheid ignoreer nie. Dit beteken ons besef dat ons nie die hele prentjie kan sien nie. God sien die einde van die begin af. Hy kan voorsien wanneer dit lyk asof daar niks is nie. Hy kan ’n pad maak waar dit lyk asof daar geen pad is nie.

Wanneer jou omstandighede jou bang maak, vra God om jou oë oop te maak. Moenie net na die probleem kyk nie. Onthou sy beloftes en vertrou sy krag. Wat vir ons onmoontlik lyk, is vir God moontlik.


Here, gee my geloofsoë wanneer ek nie die pad vorentoe kan sien nie. Amen.


Kommentaar

Republikein 2026-11-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer