Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
2 Konings 6:24: “Later het koning Ben-Hadad van Aram sy hele leër opgeroep, na Samaria toe opgeruk en dit beleër.”
Ben-Hadad, die koning van Aram, het vroeër God se genade ervaar toe Elisa sy leër gevoed en gespaar het en hulle in vrede na hulle land teruggestuur het.
Tog het hy later teruggekom om Samaria aan te val. Die stad is omsingel. Kos het baie duur geword en die honger het ondraaglik geword. Mense het so swaar gely dat selfs die liefde en omgee binne gesinne begin verdwyn het.
Dis ’n pynlike voorbeeld van wat sonde, oorlog en menslike lyding kan veroorsaak. In plaas daarvan om uit God se genade te leer, het Ben-Hadad se beleg ’n hongersnood veroorsaak wat mense tot uiterste wanhoop gedryf het. Sy strewe na mag het onreg, honger en die dood veroorsaak.
Wanneer ons God uit die oog verloor, kan trots, woede, wraak en selfsug ons besluite begin beheer. Ons misbruik ons gesag en hou aan woede en bitterheid vas. Ons word hard, selfsugtig en genadeloos. Ons veroorsaak dat die waardes van medemenslikheid en omgee begin verdwyn. Kom ons vra God om ons geestelike oë oop te maak. Wanneer ons God se genade raaksien, leer ons om ook genadig teenoor ander te wees. Hoe anders sal die wêreld nie lyk as dit gebeur nie!
Here, maak my oë oop sodat ek U duidelik kan sien. Lei my om geregtigheid en genade te kies. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie