Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
2 Konings 4:41: “Elisa het gesê: ‘Bring ’n bietjie meel.’ Hy het dit in die pot gegooi en gesê: ‘Skep op vir die mense dat hulle kan eet.’ Die kos in die pot was toe nie meer giftig nie.”
Tydens ’n ernstige hongersnood was Elisa en die profete honger. Hulle het ’n pot kos gemaak, maar een van die jong manne het, sonder dat hy dit besef het, giftige wilde komkommers ingesit. Toe hulle begin eet, het hulle uitgeroep: “Man van God, daar is gif in die kos!”
Elisa het nie die jong man veroordeel nie. Hy het meel gevra, dit in die pot gegooi en gesê dat hulle moet eet. God het die gif weggeneem en die kos veilig gemaak.
God verander hopelose situasies. Wanneer ons min het, voorsien Hy, soos tydens hierdie hongersnood. Wanneer ons foute maak uit swakheid of onkunde, verlaat Hy ons nie. Sy genade is groter as ons mislukkings.
Die giftige kos kon die dood bring, maar God het lewe gebring. Jesus, die “Brood wat lewe gee” (Johannes 6:35), het die gif wat dood veroorsaak, geneutraliseer. Deur sy dood en opstanding het Hy sonde en die dood oorwin en vir ons nuwe lewe gegee.
Wanneer jou situasie hopeloos lyk, onthou: Die Here is in staat om situasies wat ons self veroorsaak het, te verander. Hy bring hoop, genesing en lewe.
Here Jesus, help my om in elke situasie te onthou dat U die bron van lewe en hoop is. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie