Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
2 Konings 4:2: “Ek het niks in die huis nie. . .”
Het jy al by ’n punt gekom waar jy gevoel het dat jy in ’n doodloopstraat is? Miskien was dit ’n finansiële krisis – groot skuld wat jy nie weet hoe om te betaal nie. Miskien was dit ’n gesondheidskrisis – ’n diagnose wat jou hele wêreld omgekeer het. Miskien was dit ’n gesinskrisis – ’n verhouding wat onmoontlik lyk om reg te maak. Of dalk is dit net die daaglikse stryd om alles bymekaar te hou terwyl dit voel asof alles uitmekaar val.
In sulke tye vra ons moeilike vrae: Sien God wat met my gebeur? Gee Hy om vir die klein besonderhede van my lewe? Kan Hy my regtig help?
Die verhale in 2 Konings 3-4 antwoord hierdie vrae met ’n duidelike ja. Ons sien hoe God gewone mense in moeilike omstandighede ontmoet: ’n Leër sonder water, ’n weduwee met onbetaalbare skuld, ’n ma wie se seun gesterf het en profete wat tydens hongersnood voor groot uitdagings staan.
In elke situasie bring God lewe waar daar geen uitkoms was nie, hoop waar daar wanhoop was en voorsiening waar daar niks was nie. Die Here sien ons nood. Hy gee om vir ons lyding. Hy voorsien op maniere wat ons nooit verwag nie. Geen situasie is buite sy mag of buite sy liefdevolle sorg nie.
Here, help my om U te vertrou wanneer ek geen uitweg sien nie. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie