Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Psalm 139:7: “Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?”
God is oral. Ons kan probeer om van Hom af weg te hardloop of te leef asof Hy ons nie sien nie. Psalm 139 herinner ons egter dat daar nêrens is waarheen ons kan gaan waar God nie teenwoordig is nie.
Dit kan ons soms ongemaklik laat voel, maar dit is ook ons grootste troos. Ons is gemaak om in sy teenwoordigheid te leef. Soos ’n vis water nodig het om te leef, het ons God nodig. ’n Lewe weg van Hom mag soos vryheid lyk, maar dit neem ons al hoe verder van die Een wat aan ons lewe gee. Daarom is die vraag persoonlik: Waarheen is ek op pad? Neem my keuses, gedagtes en begeertes my nader aan God, of verder van Hom af?
Die goeie nuus is dat God nie verdwyn wanneer ons wegloop nie. Hy ontmoet ons in ons swakheid, onsekerheid, eensaamheid, mislukkings en pyn. Hy was by Jakob op sy pad, by Moses toe hy onseker was. Hy is teenwoordig in Jesus, Immanuel – God met ons.
Deur sy Gees bly God by sy mense. Wanneer jy ver van God voel, moenie dink dat Hy verdwyn het nie. Draai na Hom toe. Hy is daar. In sy teenwoordigheid is ons by die huis.
Here, dankie vir u wonderlike teenwoordigheid, oral en altyd. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie