Photo Caption
Photo Caption

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

2 Konings 2:2: “Elia sê toe vir Elisa: ‘Bly jy hier, want die Here stuur my na Bet-El toe.’ Maar Elisa sê: ‘So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.’ Hulle het toe saam na Bet-El gegaan.”


Elia en Elisa se reis van Gilgal na Bet-El, daarna Jerigo en uiteindelik die Jordaan, kon sekerlik vir hulle lank en onnodig gevoel het. By elke plek het Elia vir Elisa gesê om agter te bly, maar Elisa het geweier om hom te verlaat. Waarom het God hulle op hierdie lang pad gelei? Waarom nie sommer direk na die Jordaan nie?

Ons eie lewensreis kan soms ook so voel. Ons wonder dalk hoekom God ons deur ’n sekere situasie lei of waarom die pad voel asof ons by elke “stasie” moet stop. Daar is moegheid, bekommernis oor ons gesondheid en oor ons kinders. Soms probeer ons om net deur nog ’n week te kom. God verduidelik nie altyd wat Hy doen nie. Party dinge kan vir ons verwarrend of selfs sinloos lyk. Die Here sien die hele pad, terwyl ons dikwels net die volgende tree kan sien. Kom ons bly getrou en hou aan om saam met God te stap. Ons hoef nie die hele pad te verstaan voordat ons Hom vertrou nie. God is nooit verward of verras nie. Hy lei sy kinders getrou.


Here, help my om U met elke tree van my lewenspad te vertrou. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-11-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer