Photo Caption
Photo Caption

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

2 Konings 2:11: “Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik ’n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in ’n stormwind op, die hemel in.”


Die meeste van ons sal nooit ’n wa van vuur sien of iemand in ’n stormwind hemel toe sien gaan nie. Ons leef gewone lewens. Ons werk, berei kos voor, versorg ons gesinne, betaal rekeninge en hanteer die probleme van elke dag. Tog herinner hierdie verhaal ons daaraan dat daar meer is as wat ons met ons oë kan sien.

Elia se hemelvaart was ’n besondere oomblik waarin God vir Elisa iets van die onsienlike werklikheid laat sien het. Vir ’n kort oomblik was dit asof die gordyn tussen die hemel en die aarde oopgetrek is. Elisa kon sien dat God naby is en dat sy mag baie groter is as wat ons kan verstaan.

Ons kan ook soms besondere oomblikke beleef waarin ons God se teenwoordigheid baie sterk ervaar. Dit kan tydens gebed of aanbidding gebeur, maar ook in tye van hartseer, siekte, verlies of nood. Sulke oomblikke herinner ons daaraan dat God naby is. Ons het egter nie ’n wonderwerk of visioen nodig om te weet dat God naby is nie. Sy Gees is altyd by ons, ja, Hy woon in ons. Wanneer die lewe gewoon, moeilik of eensaam voel, moet ons onthou: die hemel is werklik, God is naby, en Hy is besig om te werk, selfs wanneer ons dit nie kan sien nie.


Here, help my om elke dag op u teenwoordigheid en krag te vertrou. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-09-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer