Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Psalm 139:23-24: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!”
Psalm 139 eindig met ’n gebed waarin Dawid vra dat God sy hart moet ondersoek. Hy praat baie sterk oor sy vyande: “Ek haat hulle met ’n uiterste haat, want hulle is ook my vyande” (Psalm 139:22). Hoe moet ons hierdie woorde verstaan? Sommige verklaarders sê dat dit die Ou Testamentiese ekwivalent van geestelike oorlogvoering is (Efesiërs 6:10-20). Ander sê dat Jesus alles verander het. Hy leer sy volgelinge om anders op te tree teenoor mense wat hulle seermaak: “Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg” (Matteus 5:44).
Dietrich Bonhoeffer het daarop gewys dat Christelike liefde nie afhanklik is van hoe ander mense ons behandel nie. Jesus roep ons om vir hulle te bid en hulle in gebed voor God te bring. Hoe groter iemand se haat en bitterheid, hoe groter is sy behoefte aan liefde. Hulle is mense wat God se genade nodig het, net soos ons. Daarom kan ons leer om na elke persoon te kyk en te dink: “Hier kom iemand wat na die beeld van God geskep is.” Dit verander hoe ons mense behandel – in ons huise, kerke en gemeenskappe.
Here, deurgrond my hart en leer my om elke mens deur u oë te sien. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie