Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Psalm 139:13: “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.”
Wie is ons en waar kom ons vandaan? Psalm 139 gee vir ons ’n duidelike antwoord: Ons kom van God af. Ons lewens is in God se hande en ons behoort aan Hom.
God was van die begin af by ons lewe betrokke. Nog voordat ander mense van ons geweet het, het God ons geken. Voordat ons gebore is, was Hy reeds daar. Ons is nie foute nie. God het ons gemaak. Daarom is elke mens kosbaar.
Ons hoef nie ons waarde te verdien nie. Ons hoef ook nie aan ander te bewys dat ons belangrik is nie. Ons waarde kom van God, wat ons gemaak het en ons volledig ken.
Die bekende Henri Nouwen skryf dat daar baie stemme in die wêreld is wat vir ons sê dat ons nie goed genoeg, mooi genoeg, suksesvol genoeg of belangrik genoeg is nie. As ons hierdie stemme te lank hoor en glo, kan ons onsself begin verwerp. God sê iets anders: Jy is my skepping. Ek ken jou. Ek het jou gemaak. Jy is vir My kosbaar.
God was daar voordat ons lewe begin het. Hy is vandag by ons. Hy sal ook by ons wees wanneer ons lewe tot ’n einde kom. Wat ook al jou lewensfase is, weet dit: Ons is nooit buite sy sorg nie.
Here, help my om te onthou dat U my gemaak het, my liefhet en my veilig in U hand hou. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie