Photo Caption
Photo Caption

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Efesiërs 5:3-4: “Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie. Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle.”


Om Jesus te volg, beteken dat ons ons ou maniere van leef moet los. Ontug beteken dat ons ons seksualiteit gebruik op ’n manier wat nie by God se goeie bedoeling pas nie. Onsedelikheid gaan nie net oor wat ons doen nie, maar ook oor wat in ons harte en gedagtes gebeur. Gierigheid is die voortdurende begeerte na meer, selfs wanneer God reeds vir ons genoeg gegee het.

Ons woorde is ook belangrik. Wat ons sê, kan ander mense seermaak of ons getuienis as Christene verswak. Growwe, ligsinnige en vuil praatjies pas nie by mense wat deur Christus verander word nie. Daarom gee Paulus vir ons ’n beter keuse: dankbaarheid. Dankbaarheid verander nie net ons woorde nie; dit verander ook ons manier van dink. Gierigheid sê: “Ek sal gelukkig wees wanneer ek meer het.” Dankbaarheid sê: “Here, dankie vir wat U reeds vir my gegee het.”

Dankbaarheid leer ons om God se gawes raak te sien en dit met ’n tevrede hart te ontvang. Ons hoef nie altyd meer te hê om gelukkig te wees nie. Dankbaarheid word ’n nuwe manier van leef én praat.


Here, beskerm ons gedagtes en lei ons woorde, sodat ons U in alles kan eer. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer