Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Efesiërs 4:28-29: “As iemand ’n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ’n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee. Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is. . .”
Paulus wys hier vir ons die verskil tussen die ou en die nuwe lewe. Die evangelie verander ’n mens. Iemand wat vroeër gesteel het, word iemand wat eerlik werk en leer om vrygewig te wees. Ons werk nie net om vir onsself te hê nie, maar sodat ons ook iets vir ander kan gee. Ons fokus verskuif van: “Wat kan ek kry?” na “Hoe kan ek ander seën?”
Paulus praat ook oor ons woorde. “Vuil taal” beteken nie net vloekwoorde nie. Dit verwys na woorde wat sleg, skadelik of afbrekend is – woorde wat soos vrot vrugte is en verrotting versprei. Daarom moet ons eerder woorde gebruik wat goed en opbouend is. Paulus gebruik ’n Griekse woord wat verband hou met genade of guns. Ons woorde behoort genade (charis) te bring – woorde van bemoediging wat ander opbou en tot seën kan wees.
Ons hande en ons woorde kan albei God se genade wys. ’n Nuwe lewe het vrygewige hande en woorde wat ander opbou.
Here Jesus, verander my sodat ek vrygewig kan wees en my woorde genade, bemoediging en seën aan ander bring. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie