Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Efesiërs 4:25: “Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam.”
Paulus begin hierdie gedeelte met “Noudat”. Hy het verduidelik wat God deur Christus vir ons gedoen het en wie ons nou in Christus is. Daarom moet ons nuwe lewe ook sigbaar word in die manier waarop ons elke dag leef en met ander omgaan.
Ons nuwe lewe in Christus verander ook die manier waarop ons praat. Ons woorde moet eerlik, liefdevol en opbouend wees. Die rede is eenvoudig: “want ons is lede van dieselfde liggaam.” Wat ons sê en doen, raak dus nie net onsself nie, maar ook ander gelowiges. Ons woorde kan mense bemoedig en verhoudings versterk, maar dit kan ook seermaak, verdeeldheid veroorsaak en vertroue afbreek. Daarom moet ons valsheid, leuens, skinder en misleiding vermy en eerder die waarheid praat.
Stanley Hauerwas beskryf die kerk as ’n plek waar ons leer hoe om goed te leef. Hier leer ons ’n nuwe manier van praat, ’n nuwe taal (“speaking Christian”), ’n nuwe manier van dink en ’n nuwe manier van optree. Ons leer by mekaar hoe om Jesus te volg deur saam te leef, saam te aanbid en mekaar te ondersteun. Wanneer ons die waarheid in liefde praat, help ons om ’n gemeente te bou waar mense mekaar kan vertrou, bemoedig en opbou.
Here, leer my om die waarheid in liefde te praat, sodat my woorde ander versterk en u gemeente opbou. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie