Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Job 42:15: “Nêrens in die land was daar sulke mooi vrouens as Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf.”
Ná al Job se swaarkry het die Here sy lewe wonderbaarlik herstel. ’n Spesifieke verwysing is dat die name van sy drie dogters genoem word: Jemima, Kesia en Keren-Happug. In Bybelse tye is vroue selde by die naam genoem, tensy hulle ’n belangrike rol in die verhaal gehad het. Hulle name herinner aan skoonheid, vreugde en nuwe lewe ná lyding.
Nog meer opvallend is dat Job sy dogters saam met hulle broers laat erf het. Dit was baie ongewoon, want dogters het gewoonlik nie geërf as daar seuns was nie. God se teenwoordigheid het Job se hart en sy manier van dink verander. Wanneer God ons harte verander, begin ons mense sien soos Hy hulle sien. Daarom skryf Paulus: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man of vrou nie; want julle is almal één in Christus Jesus” (Galasiërs 3:28).
Die Here se teenwoordigheid verander nie net ons omstandighede nie, maar ook ons gesindheid. Hy leer ons om elke mens met liefde, genade en respek te behandel.
Here, help my om mense deur U oë te sien en hulle met U liefde te behandel. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie