Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Job 42:3: “Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie.”
Job se verhaal leer ons dat geloof nie gaan oor wat ons van God kan kry nie. Wanneer ons geliefdes, drome of besittings verloor, is daar nie ’n maklike antwoord wat alles regmaak nie. Daarom moet ons vra: Waarom dien ek God? As dit net is oor wat ek kan ontvang, hang my geloof van my omstandighede af. Job het nie op God vertrou omdat hy geweet het alles sou weer regkom nie. Hy het God vertrou omdat God in beheer is. Hy wys vir ons dat ons God kan vertrou, al verstaan ons nie alles nie.
Ek hou daarvan om IKEA-meubels aanmekaar te sit, maar ek maak soms foute, want ek is nie die ontwerper nie. Ek kan net die instruksies volg en die persoon bewonder wat dit ontwerp het. Job het dieselfde besef. Hy het erken dat God die Ontwerper is, en nie hy nie. Job se pyn en vrae was eg. Hy het sy hart voor God uitgestort, maar hy het nooit opgehou om met God te praat nie.
Die Here nooi ons om dieselfde te doen. Ons kry nie altyd al die antwoorde nie, maar ons kan Hom steeds vertrou, aanbid en eerlik na Hom toe kom.
Here, help my om U as die volmaakte Ontwerper te vertrou. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie