Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Job 42:2: “Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit.”
Job kom by ’n keerpunt wanneer hy sê: “Ek trek my woorde terug. Ek verander van gedagte. Ek is stof en as. Ek aanvaar my plek.” Hy besef dat hy net ’n mens is met beperkte kennis, maar God weet alles. Daarom hou hy op om met God te stry.
Wat het hierdie verandering te weeg gebring? God het met hom gepraat. God gee nie vir Job redes vir sy swaarkry nie. Hy vertel nie van die gesprek met die Aanklaer of dat dit ’n toets van sy geloof was nie. In plaas daarvan wys God vir Job op sy skepping: die aarde, die see, die sterre, die voëls, die wilde diere en groot skepsels soos Behemot en Leviatan. Dit herinner Job daaraan dat God se wysheid en mag baie groter is as wat enige mens kan verstaan.
God gee nie antwoorde op Job se vrae nie. Hy gee vir hom iets beter: sy teenwoordigheid. Toe Job die lewende God ontmoet, verander sy hart. Hy hou op om antwoorde te eis en begin God aanbid.
Job se verhouding met God word herstel, nie omdat hy alles verstaan nie, maar omdat God Homself aan hom openbaar. In God se teenwoordigheid kan Job verby sy swaarkry kyk en God vertrou, die Een wat alles in sy hand hou.
Here, ek aanvaar dat U God is en dat ek net ’n mens met beperkte begrip is. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie