Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

Bybelse wysheid

-
-
Francoise Steynberg

DR. ANNES NEL

Job 42:6: … nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as.


Job se kennis van God, wat hy by ander gehoor het, verander na ’n persoonlike ontmoeting met God. Johannes Calvyn het geglo dat Job hom voor God verootmoedig en besef hoe klein hy teenoor God se grootheid is.

Baie verklaarders stem saam dat Job berou het, maar nie omdat ’n verborge sonde sy lyding veroorsaak het nie. Hy is immers opreg en onberispelik. Sy berou gaan eerder oor sy ongeduld, bitterheid en die feit dat hy God uitgedaag en antwoorde geëis het.

Robert Gordis wys daarop dat die Hebreeuse woord vir “berou” ook kan beteken “trek terug” of “verander van mening”. Job laat vaar sy saak teen God. Hy aanvaar God se gesag en beëindig die stryd. Hy erken dat hy oor dinge gepraat het wat hy nie ten volle verstaan het nie. Nou luister hy eerder as om God uit te daag. Soos die digter van Psalm 73 leer hy dat mense nie alles van lyding en onreg kan verstaan nie.

“Sak en as” verwys na die mens se swakheid en sterflikheid. Job bely nie ’n geheime sonde nie. Hy aanvaar eenvoudig sy plek voor die Skepper. Hy verander sy perspektief en onderwerp hom aan God se groter wysheid.

Dit is beter om op my knieë voor God te wees as om te dink ek is God.


Here, ek aanvaar dat U God is en dat ek net ’n mens met beperkte begrip is. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-08-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer