Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

BYBELSE WYSHEID

Francoise Steynberg

DR. ANNES NEL

Job 42:5-6: Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, en nou … sit ek vol berou


My ma het altyd die lewe as ’n halfleë glas gesien. Sy het die pyn agter die helder ligte van Kaapstad raakgesien, eerder as die vreugdes.

In elke kerkbank sit iemand met ’n stukkende hart, skryf Ruth Graham. Ons dra verskillende vorme van swaarkry: siekte, hartseer, onreg en tye wanneer dit voel asof God stil is. Mense wat die Here jare lank getrou in die kerk en gemeenskap gedien het, sterf skielik. Dit laat ons met baie vrae.

Teologiese verduidelikings help nie altyd om ons vrae te beantwoord nie. Job se vriende het aangehou sê dat hy gesondig het en dat alles weer reg sou kom as hy net berou toon. Hulle was verkeerd.

Job se reaksie verras ons. Sy klagtes en vrae maak plek vir ’n nuwe verstaan van God. Die hele toon van die verhaal verander. Waaroor het Job berou gehad? Aan die begin van die boek beskryf God hom immers as opreg en onberispelik. Job bely dus nie ’n geheime sonde nie. Hy beweeg eerder van ’n geloof wat op gehoor berus na ’n persoonlike ontmoeting met God.

Wanneer ons God ontmoet, besef ons hoe beperk ons begrip van die lewe is. Dan gee ons nie moed op nie. Ons kniel eerder voor Hom en gee ons lewe aan Hom oor.


Here, al verstaan ek nie die pyn van hierdie wêreld nie, gee ek myself aan U oor. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-11-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer