Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Job 38:4: “Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het.”
Die Here beskryf die skepping as ’n groot bouprojek, met fondamente, mates en ’n hoeksteen. God het dit met sorg ontwerp en gemaak. Waar was jy, Job? Daar is ’n tikkie ironie in God se woorde: “Praat as jy die antwoord het.” Job kan nie antwoord nie, want hy was nie daar toe die wêreld geskep is nie. Ons kan nie ’n bouer beoordeel as ons nie weet hoe die huis gebou is nie. Job kan ook nie God se dade ten volle beoordeel sonder om die skepping te verstaan nie.
Terwyl God die aarde se fondamente gelê het, het die sterre saam gesing en die engele van vreugde gejubel (38:4-7). Die skepping was ’n fees vol skoonheid, vreugde en lof.
Frederick Buechner beskryf God se woorde as ’n wonderlike en indrukwekkende opera. Dit maak een ding duidelik: Kwaad en lyding was nie deel van God se oorspronklike bedoeling vir sy skepping nie.
Die Here maak Job se lyding nie af as onbelangrik nie. Hy plaas dit eerder in perspektief. Die wêreld is groot, vreemd, wonderlik en groter as enige een mens se verhaal.
Tog het een verhaal elke verhaal van lyding verander. Jesus het in ons gebroke wêreld en in ons persoonlike lyding ingekom. Deur sy opstanding het ons die vaste hoop dat God een dag alles nuut sal maak.
Here Jesus, ons loof U vir die hoop wat ons in U het. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie