Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Job 38:3: “Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My.”
Job se hele wêreld het om sy pyn begin draai. Sy hartseer, verlies, swaarkry en baie vrae waarop daar geen antwoorde was nie, was die middelpunt van sy wêreld.
Dit is verstaanbaar. Wanneer ons seerkry, sien ons dikwels net ons eie pyn. Wanneer ons treur, voel dit asof ons verlies alles oorheers. Wanneer ons verward is, is die vrae waarop ons nie antwoorde het nie al wat saak maak.
Die Here laat nie toe dat Job in sy klein wêreldjie opgesluit bly nie. In plaas daarvan om vir hom ’n volledige verduideliking van sy lyding te gee, wys God vir hom iets baie groter. God gee nie vir Job ’n lesing in teologie nie. Hy neem hom op ’n reis deur die wonders van die heelal en die grootheid van sy skepping. Met ongeveer 70 vrae herinner God vir Job aan die verskil tussen die Skepper en die skepsel. Die vrae is dinge wat net God ten volle kan verstaan en beheer. Die doel is nie om Job te verneder nie, maar om hom te help verstaan dat sy lewe deel is van ’n baie groter prentjie.
Hierdie ontmoeting verander Job se siening (Job 42). Hy besef dat God groter is as sy vrae en sy lyding. Laat God vandag ook jou visie verbreed en jou herinner aan sy wysheid en grootheid.
Here, ek erken dat my begrip beperk is. Open my oë vir u grootheid. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie