Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Job 38:1: “Toe het die Here vir Job aangespreek uit ’n stormwind.”
Wie praat met Job? Die naam wat vir die Here gebruik word, is sy verbondsnaam, Jahwe. Hy is die God wat altyd sy beloftes hou en met liefde vir sy mense sorg. Dit is dieselfde Here wat met Abraham en Moses gepraat het. Nou praat Hy met Job.
Job wou weet waarom hy so swaar kry. God gee vir hom iets beter as antwoorde – Hy gee sy teenwoordigheid. Gedurende sy lyding het Job na sy vriende geluister. Hulle het baie gepraat, maar hulle woorde het nie ware troos gebring nie. Wanneer God verskyn, verander die fokus. Die belangrike vraag is nie meer: “Waarom gebeur dit met my?” nie, maar: “Wie is by my in hierdie moeilike tyd?”
God praat uit die storm. Dit herinner ons aan God se verskyning by die berg Sinai. Die storm wys sy groot mag, heerlikheid en wysheid. Hy is die Skepper en Heerser van alles.
Vir ons bereik God se teenwoordigheid en verskyning die hoogtepunt in Jesus Christus. In Jesus kom God nog nader aan mense deur self mens te word. God bly nie ver van lyding af nie. Hy gaan self daardeur. Aan die kruis dra Jesus die pyn van die mensdom en oorwin Hy die dood.
Job het antwoorde gesoek. God het vir hom sy teenwoordigheid gegee. Die boodskap is duidelik: God se grootste gawe aan ons is Hyself.
Here, dankie dat U by ons is wanneer ons swaar kry. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie