Photo Caption
Photo Caption

Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Job 33:28: “Hy het my gered, ek het nie gesterf nie, nou lewe ek weer.”


Liefde bly nie ver van mense se pyn af nie. Dit deel in ander se pyn. Dit sien ons duidelik in Jesus Christus. God het nie veilig en ver weg in die hemel gebly nie. Jesus het self die pad van lyding gestap. Hy het verwerping, eensaamheid, pyn en selfs die dood ervaar. Aan die kruis het Hy in die volle diepte van menslike lyding kom staan.

Die kruis was nie die einde nie. Met Jesus se opstanding het God verklaar dat lyding en dood nie die laaste woord het nie. Die leë graf gee ons die sekerheid dat daar ’n dag kom wanneer God elke traan sal afvee en alle pyn sal wegneem (Op. 21:4).

Ons ontvang nie altyd antwoorde op al ons vrae oor lyding nie. Ons ontvang iets groter: God self. Die teoloog Heinz Zahrnt het dit mooi gestel: “God het nie gekom met ’n goue towersleutel om die tronk van ons lyding oop te sluit nie. Hy kom eerder na ons toe in ons verskillende tronke, bly by ons en dra ons lyding saam met ons.” Anders as die gode van die Grieke wat onaangeraak bly deur menslike pyn, ontmoet die Vader van Jesus Christus ons in ons lyding en bly by ons.


Here Jesus, dankie dat U ons lyding gedra het en in alle omstandighede by ons teenwoordig is. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer