Bybelse wysheid

Dr. Annes Nel

DR. ANNES NEL

Job 33:23-24: “As daar dan ’n engel by hom sou wees, een uit duisende, wat vir hom pleit … en sê: ‘Red hom, dat hy nie sterf nie; ek het ’n losprys vir hom gevind.’”


Elihu praat van iemand wat vir die lydende mens intree en sê: “Ek het ’n losprys vir hom.” Elihu se woorde is ’n vae verlange na iemand wat tussen God en die mens kan staan. Hierdie engel is nie bloot ’n boodskapper wat lyding verduidelik nie. Hy bring die boodskap van redding. 

Hier sien ons reeds iets van God se verlossingsplan wat later in Jesus Christus vervul word. God gee self die losprys vir sondaars, nie deur menslike pogings nie, maar uit sy genade.

Jesus is nie net een uit duisende nie. Hy is uniek. Hy vind nie ’n losprys nie – Hy is die losprys. Paulus skryf: “Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as ’n losprys vir almal gegee het” (1 Timoteus 2:5-6). Anders as Elihu se boodskapper waarsku Jesus nie net oor die graf nie. Hy het ons plek ingeneem, gesterf en weer opgestaan. Hy is ons Verlosser. Ons soek oplossings en verklarings. Hy bring ewige verlossing.


Here Jesus, dankie dat U ons losprys geword het en ons uit die dood na die lewe gebring het.

Kommentaar

Republikein 2026-07-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer